View All Articles
 
  Wereldbekende fotokunstenaar stal uit in Kunstekaap  
 
Author: Marthinus van Bart
Publication: Die Burger
Publication Date: 17 October 2016

Robert Sithole as a young boy, 1958, Cape Town
Foto: Günther Komnick

Die internasionaal bekende fotokuns van Günther Komnick van Pinelands kan van 9 tot 28 November in die marmer-portaal van Kunstekaap in die Roggebaaise Strandgebied van Kaapstad in 'n spesiale tentoonstelling, Impressions from around the world, gesien word.

Komnick (87), 'n boorling van Oos-Pruise wat in 1956 na Suid-Afrika gekom het, is 'n beroepsfotograaf, grafiese ontwerper en illustreerder wie se agt fotokuns-boeke wereldwyd bekend is. Ook het hy verskeie kinderboeke, wat met die CP Hoogenhout- goue medalje bekroon is, die lig laat sien. Hy gee ook self sy top gehalte boeke in hardeband uit.

Sy boeke, Impressions, Cape Town: Memories of the '60's. Impressions of America, Impressions of China, Impressions of India, Impressions of Morocco, Impressions of Peru en Impressions of Vietnam, Laos and Cambodia, sal ten tyde van die foto-tentoonstelling in die voorportaal van Kunstekaap te koop wees.
Soos die titels dan ook aandui, het Komnick al na byna elke uithoek van die aardbol gereis om die mense, hul wonings en geboue gefotografeer. Die onderliggende tema is kultuur, wat ook verskillende vorme van die kunste insluit.

Komnick gebruik sy kamera soos 'n skilder sy kwaste en verf gebruik. Hy vang uitdrukkings en gemoedstemminge, wat die waarheid reflekteer, in die oomblik vas: "My gevoelens word in die foto-beelde gereflekteer. Ek word deel van die foto's, en hulle word deel van my. Hulle is my indrukke van hoe ek die wereld sien. My beelde is eerlik, regstreeks en altyd medemenslik, selfs in situasies van klaarblyklike hulpeloosheid. Dit is gestroop van alle vorme van arrogansie en selfsug."

Komnick is in 1929 in Oos-Pruise in 'n kunstenaarsgesin gebore. Toe hy maar 15 jaar oud was, is hy saam met sy moeder en jonger suster in die duistere afskuwelikheid van 'n Russiese strafkamp gewerp. Drie jaar lank het hy in weerwil van die mees primitiewe wreedaardigheid en minagting vir die lewe van die kampwagte, die mensheid se pyn, waardigheid, verdraagsaamheid, skoonheid en wil om voort te bestaan, aanskou en ervaar. Hy was agtien jaar oud toe hy en sy naasbestaandes daarin geslaag het om na die Weste te ontsnap. Hy het daarna sy opleiding in die litografie en die grafiese kunste in Switserland ontvang. Hy is met Lila getroud, en hulle het twee dogters, Colleen en Kela, en 'n seun, Chris.